Welkom

18 April 2012

Die Varing Musiekfees-komitee het by ‘n kruispad gekom oor die suksesvolle voortbestaan van die fees in die formaat soos al ons getroue en lojale ondersteuners dit oor die afgelope 8 jaar leer ken en waardeer het.

Soos almal deeglik bewus is, en sekerlik aan eie sak ervaar, plaas die ekonomie tans ook groot druk op die komitee om ‘n volhoubare fees van hoogstaande gehalte te bly lewer. Faktore soos onder andere kunstenaarstariewe en die afwesigheid van ‘n hoofborg, het ons genoodsaak om die besluit te neem om nie met die Varing Musiekfees voort te gaan nie.

Dit was ‘n uiters moeilike besluit (veral vir diegene van die komitee wat reeds van die ontstaan van die fees af betrokke was), maar een wat wel met groot omsigtigheid gemaak is. Die opsies wat ondersoek was sou tot gevolg gehad het dat ons dít waarvoor die fees bekend geword het (naamlik ons land se gewildste kunstenaars en ‘n lekker veilige kuier atmosfeer) op die spel moes plaas. Die besluit is eenparig geneem dat ons eerder die fees op ‘n hoë noot wil afsluit en nie ons standaarde in die proses wil prysgee en sodoende ons ondersteuners teleurstel nie. Ons wil dan ook nou van die geleentheid gebruik maak om ons jarelange ondersteuners en borge te bedank. Dit was jul waardering van die fees en ondersteuning wat ons elke jaar gemotiveer het om weer ‘n fees aan te bied.

Die komitee werk egter steeds as ‘n toegewyde span saam en sal voortgaan om ander geleenthede van soortgelyke hoogstaande gehalte aan te bied. Hou asseblief ons webwerf (www.varingfees.co.za) dop vir meer hieroor of volg ons op Facebook.

Varinggroete
Varingfees 2012 Komitee